• 076-246-2572
  • info@familycorner.co.za

Sing oor jou vrou

Genesis 2:

Saamgestel deur : Prof Francois Swanepoel: Epos: swanema@telkomsa.net

 

Genesis 2 is ‘n besondere verhaal. Dis so ‘n heerlik aardse verhaal. Die verhaal van die skeppng vanuit die perspektief van ‘n boer uit ‘n harde en barre wêreld, soos ons Namakwaland. Daar was geen lewe nie, want dit het nog nie gereën nie en alles was bar en dor. Maar dan laat die Here dit reën en skep Hy alles. Waar ons in Genesis 1 lees dat die mens heel laaste geskep is, lees ons hier sommer aan die begin dat Hy die mens gemaak het.

Mens kan nie anders as om bietjie te glimlag as mens lees hoe die mens gemaak is nie. Die Here vat grond en maak ‘n moddermannetjie! Miskien sal dit onse brose eggotjies ietwat opbeur as ons van ‘n kleimannetjie praat – dit klink mos darem beter as ‘n moddermannetjie. In die moddermanntjie blaas die Here asem in en dan word die moddermanntjie ‘n lewende wese. Ons is maar net moddermannetjies. Al dink ons ons is wondermannetjies. Miskien staan dit heel in die begin van die Bybel omdat dit iets is wat ons elke dag moet onthou. Ons dink ons is wonderlik en groot en belangrik. Ja, dit is ook so. Ons kan nie eens die wonder van ons eie liggaame begryp nie – dis te aangrypend ingewikkeld. Ons kan nie onsself verstaan nie omdat die mens ‘n baie komplekse wese is. Dis waar. Maar dis ook waar dat ons net maar moddermannetjies is. Mensies van klei. Swak en nietig en verganklik.

Maar voor die dames te lekker kry oor die moddermannetjies. Ons lees ook hoe die vrou gemaak is. Wag net so ‘n bietjie voor ons die storie vooruit loop.

Nadat die Here die man gemaak het, maak Hy ‘n tuin waar die man kan bly. Dis ‘n wonderlike tuin. Alles is goed. Dis ‘n lushof met baie water en nog meer bome en plante en diere. Die ware paradys. Maar nes mens dink dat dit nou ‘n luilekkerland is, lees ons dat die man die tuin moes bewerk en oppas. Dis nie ‘n kwessie van rustig agteroor sit en vrugte pluk en sonder enige werk en moeite leef nie. Die Bybel ken nie ‘n luilekker-niksdoenland nie. Die moddermannetjie moet werk!

Iets ontbreek nog. Die Here sê dat dit nie goed is dat die man alleen is nie. Dis goed dat hy werk het om te doen. Dis goed dat hy in die paradys leef. Maar iets kort. Die man kort ‘n maat. Hy is alleen en eensaam en daar is nie iemand soos hy nie. Die Here sê dan dat Hy vir die man ‘n helper sal maak. Nou moet ons mooi luister. Die Here is van voornemens om vir die man ‘n hulp te maak wat by hom pas en wat sy gelyke sal wees. Nou klink die twee amper kontrasterend: ‘n helper en gelyke. ‘n Gelyke helper. Opvallend is dat die woord wat hier vir helper gebruik word, nie in die vroulike vorm is nie, maar in die manlike vorm. Daarmee word al klaar gesê dat die vrou nie op seksuele vlak alleen die man sal help nie en veral nie ‘n seksuele voorwerp sal wees nie. Die vrou sal in alle opsigte die helper van die man wees. Emosioneel, intellektueel, fisies en geestelik. Op alle vlakke. En dit nie as ondergeskikte nie, maar as gelyke. Dit was nogal iets radikaal in daardie tyd. Selfs vandag nog. Die vrou is die gelyke van die man. Ja, sy helper en ondersteuner sonder wie hy onvolkome is – sommer net ‘n halwe moddermannetjie. As dit dan so is dat die vrou die man se helper en gelyke is, dan beteken dit mos ook dat dit omgedraai kan word en dat die man die vrou se gelyke en helper is. Miskien moet ons dit weer besef.

Al sê die Here dat Hy vir die man ‘n gelyke helper sal maak, doen Hy dit nie dadelik nie. Dis asof die man nog nie tot die besef gekom het van die leemte nie. Hy moet nog eers ontdek hoe alleen en onvolkome hy is. Hiervan lees ons in die volgende verse. Hy raak besig en gee name aan al die diere. En dit was harde werk, want om name te gee moes hy dit aan wie hy name gee, ken. Hoe langer hy werk, hoe groter word die besef: hier’s nie iemand soos ek nie. Ek het nie ‘n maat nie. Hier’s niemand wat my kan help en met wie ek op gelyke vlak kan kommunikeer nie. Dit bly wonderlik hoe die Here met mense, met ons, werk. Hy weet wat ons nodig het, maar laat alles nie sommer in ons skote val nie. baie keer moet ons eers besef dat ons ‘n behoefte het en dat ‘n leemte bestaan voordat Hy hierin voorsien. Ons het ‘n wonderlike Vader.

Sy is uit die man se ribbebeen gemaak. Nou is daar diegene wat sê dat dit daarop dui dat sy nie uit die kopbeen gemaak is en dus nie op die man se kop mag sit nie. Sy is ook nie uit ‘n voetbeentjie gemaak nie en daarom mag die man nie op haar trap nie. Die ribbebeen sou daarop dui dat sy na aan sy hart moet wees. Ander wys weer daarop dat die ribbebeen die kromste been in die manlike skelet is en so is die vrou: ‘n krom en verdraaide geslag. Maar dis sommer nonsens. Die Hebreeuse woord wat met ribbebeen vertaal is, is tsela. Dit is ook die woord wat vir kant, soos in die kant van ‘n gebou gebruik word en kan selfs met “helfde” vertaal word. Die woord tsela klink baie na aan die woord vir beeld of liewer skadubeeld of skaduwee wat ons in Genesis 1:26 vind, naamlik tselem. Daar lees ons dat die mens geskep is as die tselem, die skaduwee van God. Nou weet ons dat ‘n skaduwee nie selfstandig kan bestaan nie. Ons skaduwees is onlosmaaklik aan ons verbonde. So is die mens onlosmaaklik aan God gebonde. Sonder Hom kan ons nie bestaan nie. Hierby sluit Genesis 2 aan. Die vrou is uit die man en wesenseen met hom. Dit word bevestig deur die stelling dat die Here ‘n helper, ‘n gelyke vir die man skep. Dit word ook onderstreep in die lied wat die man oor die vrou sing.

As die man die vrou ontdek, sing hy. Tot hier toe was die verhaal in prosavorm. Eintlik amper ‘n droë vertelvorm. Nou verander dit: die man sing. Dis asof blydskap hom oorval en hy nie anders kan as om bly te sing nie. Is dit nie mooi nie. Waar man en vrou mekaar ontmoet, verander die atmosfeer en word blydskap oorheersend. Hy sing omdat hy ‘n maat gevind het. Hierdie keer is dit een uit myself; een soos ek. Hy verwys na haar as ishah (vrou), die vroulike vorm van ish, man. Hy sing oor die gelykheid. Sy is sy eweknie. Sy lewensmaat in alle opsigte. Daar is ‘n huppel in die stap en ‘n lied op die lippe.

Die ontmoeting van die vrou, verander die man se lewe radikaal. Ons lees hier dat die vreugdevolle ontdekking van en ontmoeting met die vrou daartoe lei dat die man sy ouerhuis verlaat en een word met sy vrou. Waar hy tot dan toe onder die sorg en toesig van sy ouers staan, neem hy nou die leiding en word hy die een wat sorg en beskerm.

 

Leave a Reply

Your email address will not be published.

*