• 076-246-2572
  • info@familycorner.co.za

Hoe lekker blameer ons mekaar

Genesis 3:

Saamgestel deur : Prof Francois Swanepoel: Epos: swanema@telkomsa.net

Een skemermiddag, so vertel Genesis 3 vir ons, het die Here God by die mens kom kuier. Die manier waarop dit vertel word, skep die indruk dat dit nie ‘n uitsonderlike kuier was nie. Dit wil klink asof dit die gebruik van die Here was om elke middag as die werk tot ‘n einde gekom het, by die mens te kom kuier. Dit gebeur so laatmiddag. Dis mos daardie besondere tyd van die dag. Die tyd as die gejaag tot stilstand kom. As die sweet van die harde werk afgewas is. As mens met ‘n lekker koppie koffie kan sit en ontspan. As man en vrou die verloop van die dag met mekaar kan deel. Sommer net saam sit en alles van jou laat afrol.

Die manier waarop dit hier vertel word, laat mens dink aan ‘n pa wat teen skemertyd by sy kinders gaan kuier. Hy wil hoor hoe dit gaan en wil die mooi tyd van die dag saam met hulle geniet en deel in hulle vreugdes.

Helaas, die middag toe die Here God weer kom kuier, het alles skeef geloop. Eintlik het dinge die hele dag gelol en dit hoe later hoe kwater geword. Die dag was ‘n totale mislukking. Hoe sou hulle nie wens dat die dag anders verloop het nie! Die Here het mense gemaak wat ‘n vrye keuse het en kan kies wat hulle wil doen.

Daardie dag het die vrou die slang raakgeloop. Sy leen haar ore uit vir die slang en laat toe dat hy haar ‘n gat in die kop praat. Sy trap in ‘n tipiese slaggat in haar gesprek. In plaas van sommer net reguit en beslis te sê: Nee, ek weier om dit te doen, praat sy. Al sê sy aan die begin vir hom dat hy die woorde van die Here verdraai, begin sy twyfel en wonder of hy nie dalk reg kan wees nie. En dan beland sy al dieper in die moeilikheid deur haar oordrywing. Sy sê: as hulle van die vrugte van die boom aanraak, sal hulle dadelik sterf. Nêrens lees ons van die aanraking van die vrugte nie; net van die eet. Die Here het die vrugte van die bome in die middel van die tuin vir Homself uitgehou, maar sy het nie daaraan gedink dat dit dalk kan wees dat as hulle van die vrugte eet, hulle soos God sal word nie. Hoe lekker sou dit nie wees nie. Dan hoef hulle nie meer namens die Here en tot sy eer te werk nie, maar kan hulle in sy plek gaan staan en gelyk wees aan Hom. Dan is hulle nie meer kleimensies nie; nie nietig en verganklik nie, maar groot en ewig. Dit kan net lekker wees. Die gedagte was so aantreklik dat sy van die vrugte gevat en geëet het.

Dit lyk asof die vrou in die eeue oue slaggat van kitsoplossings trap. As julle van die vrugte eet, sal die lewe wonderlik wees. Net een hap en alles sal hemels wees – so asof dit nie alreeds wonderlik was nie! Net een hap en julle sal soos God wees. Nie moddermensies nie, nie die skaduwee en afskynsel van die Here nie. Nee, sommer gelyk aan God. En sy val daarvoor. Soos so baie vandag nog val vir kitsskemas.

Die vrou ken nie haar man in hierdie saak nie. Sy doen dit op haar eie. Nou nie dat dit beteken dat vrouens altyd hulle mans in alles moet ken of nie besluite kan neem nie. Die teenoorgestelde is ook waar. Maar dit gaan oor die gebrek aan kommunikasie. Veral as dit by so ‘n ingrypende saak kom. Hoekom het hulle nie met mekaar gepraat nie?

Sy gee dan ook vir haar man daarvan. Hy dink nie eers tweemaal nie, maar eet sommer ook. Die man is ook nie so onskuldig nie. Hy word eintlik hier as ‘n swakkeling en slappe geteken. Hy doen eintlik niks. As sy vrou vir hom gee, eet hy maar net. Hy sê nie nee nie; vra nie vrae nie; redeneer nie. Hy eet sommer maar net.

Helaas, alles het toe verkeerd uitgewerk en skeef geloop. In plaas dat hulle soos God word, besef hulle skielik dat hulle kaal is. Hulle is skaam vir mekaar. Van skurwe en krapperige vyeblare maak hulle gou iets om hulle toe te maak. Daar kom skeiding tussen hulle. As hulle teen die laat middag hoor dat die Here God op pad is, kruip hulle weg. Hulle is skaam en bang. Die heerlike oop verhouding met die Here is tot niet.

Die Here God weet dadelik dat iets erg skeef geloop het. Maar Hy draai nie om en loop weg nie. Hy vererg Hom nie so vir die mens dat Hy daar en dan besluit dat Hy nooit weer iets met die mens te doen wil hê nie. Nee, Hy soek die mens op. Hy roep na die mens: Waar is jy? Reeds op die eerste bladsye van die Bybel kom die liefde van die Here sterk na vore. Hy soek die mens op en soek na die mens.

Die Here het nie omgedraai en weggeloop en sy rug gedraai op die mense wat Hom teleurgestel en seergemaak het nie. Toe hulle vir Hom weggekruip het, het Hy na hulle geroep totdat Hy hulle gekry het. As daar een ding is wat ons maklik doen, is dit om die rug op ander te draai. Ons sê so maklik: hulle het my in die steek gelaat. Hulle wil my nie sien nie en daarom loop ek weg en wil niks met hulle te doen hê nie. Pleks dat ons hulle opsoek totdat ons hulle kry.

Toe die Here hulle gekry het, het Hy lank en ernstig met hulle gepraat. Hy luister na hulle. So moet ons ook as dinge skeef geloop het, die saak met ander uitpraat. Dit beteken nie dat ons verskoning hoef te aanvaar nie. Praat die saak in liefde uit, soos die Here gedoen het. Straf waar nodig. Kinders het straf nodig. Mens kan ook nie die verkeerde pad met vriende loop omdat jy te bang is vir verwerping nie. Maar onthou, dat die Here die pad enduit saam met hulle geloop het. Nooit het Hy hulle heeltemal verwerp nie. Inteendeel, hierna volg die een verhaal na die ander van die opsoekende liefde van die Here. Hy hou aan en aan totdat versoening bewerk is. Behoort ons nie die voorbeeld van ons hemelse Vader te volg nie?

Die mens besef dat hy nie vir die Here kan wegkruip nie. Die Here sal hom in elk geval kry. Hy sê dan maar waar hy is en waarom hy daar wegkruip. “Ek het U gehoor wandel in die tuin en het bang geword, want ek is kaal. Toe het ek weggekruip”. Hy kom met die hele sak patats uit.

Die Here tree in gesprek met die mens. Uit die wyse waarop die Here begin praat, is dit duidelik dat Hy dadelik by die kern uitkom.

Die man kom nou na vore as die spraaksame. Vroeër kon hy nie sy mond oopmaak nie. Nou babbel hy aanmekaar. Maar wat sê hy? Hy verwyt! Die vrou wat U my gegee het om my by te staan … Hy plaas die blaam op die vrou. Dis die vrou se skuld. Sy het eerste geëet. Sy het my verlei. Dis nie my skuld nie. Die vrou moet die blaam dra. So wil hy sy skuld afskuif op haar skouers. Is dit nou dieselfde man wat nie lank gelede nie gesing het oor die vrou? Hoe verander hy so gou van deuntjie?

Maar dinge word nog erger. Dis eintlik ook die Here wat deel van die skuld moet dra. Dis die vrou wat U my gegee het. So, eintlik is dit God se skuld. As God nie die vrou vir hom gegee het nie, het dit nie gebeur nie. Dis God wat ‘n fout gemaak het deur die vrou vir hom te gee.

Uit die man se gepratery kom nog iets na vore: selfverheffing. Dis alles die skuld van die vrou wat die Here vir hom gegee het om hom by te staan. Nou is sy skielik nie meer die gelyke helper nie, maar een wat hom moet bystaan. Sy ondergeskikte assistant.

Die vrou reageer op soortgelyke wyse. Selfs haar reaksie en antwoord dui op die gelykheid tussen man en vrou. Sy blameer ook. Die slang het my mislei. Dis nie my skuld nie. Dis die slang se skuld. So word die skuld verskuif en die blaam op ander geplaas.

By die vrou vind ons ook iets anders: selfbejammering. Sy is mislei. Sy is die onskuldige prooi van misleiding. Sy is onder ‘n wanindruk gebring.

Die blamering, selfverheffing en selfbejammering het net mooi niks gehelp nie. Die Here kondig hulle straf duidelik aan. Hulle het dit oor hulleself gebring. Hulle is en bly verantwoordelik vir hulle dade en moet die gevolge van hulle dade dra.

Hierdie ongehoorsaamheid en verwerping van die koningskap van God lei daartoe dat beide die man en vrou met smart en moeite hulle kern lewenstake sou uitvoer. Die vrou sou swaarkry tydens swangerskap en met pyn kinders in die lewe bring. Die man sou met moeite liggaam en siel aanmekaar hou en in die sweet van sy gesig sy brood verdien. Voortaan sou dinge nie meer so lekker wees nie. Die omgewing sou nie meer vriendelik wees nie. Die harmonie tussen mens en natuur is daarmee heen.

Die verhouding tussen man en vrou het hierdeur erg skade gely. Die openlike verhouding is daarmee heen. Hulle is skaam vir mekaar. Die blamering van die ander het die vertrouensverhouding geskaad en ‘n merk gelaat. Die vreugdevolle lied moes plek maak vir blamering en verwyte; vir selfverheffing en selfbejammering.

Die ongehoorsaamheid en alles wat daarop gevolg het, het ook die verhouding met die Here verbreek. Die tyd toe Hy, volgens hierdie verhaal, elke middag laat na hulle toe gekom het en as’t ware soos ‘n Vader by hulle kom kuier het, is verby. Nou word hulle weggejaag. Die afstand tussen God en die mens word al groter.

Genesis 3 is ‘n tragiese verhaal. Die verhaal nie net van die eerste egpaar nie. Dis eintlik ons eie verhale. As ons onsself in die verhaal raaksien, moet ons vra: wat doen ons? Wat leer ons uit hierdie gedeelte?

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published.

*