• 076-246-2572
  • info@familycorner.co.za

Die gelyke helper is ‘n bron van vreugde maar nie foutloos nie

Genesis 1-3:

Saamgestel deur : Prof Francois Swanepoel: Epos: swanema@telkomsa.net

 

Die Bybel begin op ‘n wonderlike noot! As ons aan die Bybel kon dink as ‘n simfonie, sou Genesis 1-3 die aangrypendste inleidingsakkoord ooit wees. Die Bybel begin met ‘n loflied aan God die Skepper-Koning wat terselfdertyd ‘n heerlike troosboodskap is vir mense wat alles verloor het. Dit word gevolg deur die allermooiste verhale oor die mens in God se wêreld.

 

Genesis 1 is nie ‘n stuk geskiedenis nie, maar ‘n belydenis deur ‘n priester tydens die Babiloniese ballingskap. Toe die mense in sak en as gesit het en hulle hele wêreld in duie gestort het, het die Here hierdie onbekende priester gestuur om sy mense te troos. Dit doen hy deur te sing van God die Skepper-Koning. Hy sê dat voor daar enigiets was, was God daar. Hy was van die begin af Koning. Dit sê die heel eerste woord: bereshit (in die begin) is ‘n tegniese term wat die begintyd van die koningskap van ‘n koning aandui. Die tyd voor hy amptelik sy troon bestyg. Nog voor daar iets was, was God al Koning. Hy skep dan vir Hom ‘n koninkryk. Alles wat ons sien en ken, die hele kosmos, is die koninkryk van God. In hierdie koninkryk van God beklee die mens ‘n besonder plek.

 

Wat sê Genesis 1 oor die vrou? Ons lees in vers 26: “Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger . . . “. En in vers 27: “God het toe die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy hulle geskep, man en vrou het Hy hulle geskep”. Is dit nie opvallend nie? Hier word nie onderskeid gemaak tussen man en vrou nie. Die mens sluit beide geslagte in. Mans en vrouens is deur God geskep. Daar is nie onderskeid nie. Beide mans en vrouens is die verteenwoordigers van God. Beide mans en vrouens is die beeld van God. In die oë van God is beide volkome gelyk. Dis belangrik om daarop te let dat die woord wat hier gebruik word vir beeld, naamlik tselem goed weergegee kan word met skaduwee of skadubeeld. Die mens is geskep om die skaduwee van God te wees. Dit beteken twee dinge. In die eerste plek dui dit daarop dat die mens nie sonder God kan bestaan nie. Die mens is volkome afhanklik van God net soos ons skaduwees nie los van ons kan bestaan nie maar altyd aan ons gebonde is. Tweedens is dit so dat ‘n skaduwee die aaandag vestig op die persoon wie se skaduwee dit is. As mens na die grond kyk en jy sien ‘n skaduwee aankom, kyk jy outomaties op om te sien wie aan die kom is. Net so moet ons as skaduwees van God die aandag vestig op God. Mens moet eintlik deur ons teenwoordigheid outomaties bewus wees van die teenwoordigheid van God. Dit geld nie net vir mans nie, maar net soseer vir vrouens.

 

Die opdrag van die Here, naamlik dat die mens moet heers oor die kosmos, geld eweneens vir beide mans en vrouens. Miskien juis gesamentlik vir mans en vrouens, want hoe kan mans of vrouens alleen vermeerder en baie word? Wat die mens se wese, sy roeping en sy posisie op aarde betref, is daar prinsipieel gelykheid tussen die geslagte.

 

In Genesis 2 het ons ‘n pragtige verhaal wat handel oor die mens se plek in God se wêreld. Ons moet nie Genesis 1 en 2 langs mekaar plaas en met mekaar vergelyk en tot die gevolgtrekking kom dat die twee skeppingsverhale so van mekaar verskil dat ons nie een daarvan kan glo nie. Ons het hier twee geheel verskillende verhale elk met ‘n eie doel. Die doel van Genesis 2 is om die klem te laat val op die mens en sy plek in God se wêreld. Hier word die man heel eerste gemaak. Daarna laat die Here God dit reën, lê Hy ‘n tuin aan en bring Hy diere na die tuin en die mens toe. Die vrou word eers heel later gemaak. Eers na die man baie hard moes werk en soek en sy werk en soeke vrugteloos was, toe die man al moeg gewerk en moedeloos gesoek was, toe eers laat die Here God die man baie diep slaap en maak Hy die vrou uit ‘n ribbebeen van die man. Die man word uit die rooi grond van die aarde gemaak. So is die man uit die aarde aards; nietig en verganklik. Net maar ‘n moddermannetjie. Die vrou word uit die ribbebeen van die man gemaak. Party sê nie uit sy voetbeentjie nie sodat hy nie op haar moet trap nie. Anders sê dan daarteen nie uit die kopbeen nie sodat sy nie op sy kop moet sit nie. Sommige sê uit die ribbebeen omdat dit die naaste aan sy hart is. Ander sê dan daarteen dat die ribbebeen die kromste been in die liggaam is en so is die vrou ‘n krom en verdraaide geslag. Maar dis nie waaroor dit gaan nie. Soos die man uit die aard is, is die vrou uit die man. Deel van die man. Wat belangrik is, is dat ons uitdruklik lees wat die Here God in verband met die skepping van die vrou sê. Ons lees dat die Here God sê dat dit nie goed is dat die man alleen is nie. Dis asof die Here God besef dat die man nie so lekker alleen kan leef nie. Hy sukkel om op sy eie te “cope”. Hy het dit skynbaar wel reg gekry om vir die diere name te gee. Hy was darem nie heeltemal hopeloos nie. Hy kon en het gewerk. Maar dit was nie so lekker nie. Daar was ‘n gemis. Die man het ondersteuning nodig. Daarom besluit die Here God om vir die man ‘n hulp te maak wat by hom pas, sy gelyke. Die vrou is veronderstel om die man se helper te wees. Maar dit word dadelik gekwalifiseer. Die helper is terselfdertyd ook die een wat by hom pas en ook sy gelyke. Sy staan nie agter hom nie, maar langs hom. Nie ondergeskik nie. Nie tweedeklas mens nie. Nie die een op die wie die man sy verantwoordelikhede kan afskuif en wie hy in die werk kan steek nie.

 

Wat doen die man as die Here God ‘n vrou gemaak het? As hy sy oë oopmaak en hy sien die vrou, dan sing hy! Tot hiertoe was Genesis 2 in saai prosaïese taal geskryf. Nou kry ons ‘n lied! Die man sing. Hy spring uit sy vel van blydskap. Hy kan sy vreugde nie beteuel of beheers nie.

 

Genesis 2 praat dan van die openlike verhouding tussen man en vrou. Hulle is kaal en skaam hulle nie. Daar is geen skanse tussen hulle nie. Nie fronte wat hulle voorhou nie. Openlik en eerlik.

 

Hoe wonderlik sou dit nie gewees het as die Bybel hier opgehou het nie. As ons en die mensdom se verhaal op hierdie wonderlike noot net aan en aan gegaan het nie! Helaas is dit nie die geval nie. In Genesis 3 lees ons die verdere verhaal van die mensdom. Ja, ons eie verhaal. En dis nie ‘n wondermooi verhaal nie.

 

Die vrou leen haar ore uit vir die slang. Doen sy nie waarteen alle ma’s hulle dogters waarsku nie? Sy gaan staan en praat met ‘n vreemdeling. Sy laat toe dat ‘n vreemdeling kom en praatjies aanknoop. En sy bedoelings was nie eerbaar nie. Dis waar, sy gee nie sommer dadelik toe aan sy verleidelike praatjies nie. Sy praat met hom. Maar haar argumente werk nie omdat sy nie die woorde van die Here God mooi reg aanhaal nie. Op die einde gee sy in. Sy staan nie sterk genoeg nie. Sy swig voor die verleiding en laat haar verlei. As sy maar net aan die begin hard en duidelik Nee gesê het! As sy maar net nie praatjies aangeknoop het nie. As sy maar net . . . . Maar sy het nie. In elk geval, onthou dat die vrou hier maar net ons is. Ons sien onsself mos in haar. Ons doen mos presies dieselfde. Ons luister na vreemdes se praatjies. Ons sê nie hard en duidelik Nee nie. Ons probeer argumenteer en laat ons oortuig deur allerlei mooi verkoopspraatjies. Dis mos maar die ou-ou storie!

 

So is die vrou nie net die gelyke helper en die een oor wie die man sing nie, maar ook die een wat foute maak.

 

Die man het nog swakker as die vrou opgetree. Hy het nie Nee gesê nie. Hy tree nie in gesprek met die vrou nie. Hy probeer haar nie van die korrekte optrede oortuig en van die verkeerde weerhou nie. Hy vat sommer en eet. Hy laat hom baie makliker verlei as wat die vrou haar laat verlei het. Moenie die vrou blameer as jy self slapper en ruggraatloser is nie. Moenie verskoning uitdink om jouself te regverdig nie. Moenie die skuld op die vrou plaas nie. Dit werk nie. Dit leer ons mos darem ook uit Genesis 3.

 

Wat leer die Bybel ons hier heel aan die begin oor vrouens en vrouwees? Die Bybel is baie duidelik dat mans en vrouens gelyk is in die oë van God. Beide geslagte is skaduwees en verteenwoordigers van God wat namens Hom en ter wille van Hom en tot sy eer oor die hele kosmos moet heers.

 

Die vrou is die gelyke helper en die een wat by die man pas. Sy is die een wat vreugde in die lewe van die man en in die wêreld bring. Sonder haar sou die ondermaanse maar ‘n gesukkel gewees het. Die vrou is nie foutloos nie. Sy is hierin ook net soos die man.

 

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published.

*