• 076-246-2572
  • info@familycorner.co.za

Tot die dood toe jaloers

 

Genesis 4:

Saamgestel deur : Prof Francois Swanepoel: Epos: swanema@telkomsa.net

 

Dwarsdeur die Bybel kom die belydenis dat die Here ‘n sagte hart vir sy kinders het, sterk na vore. Reeds in Genesis 4 is dit die sentrale tema. Dit is mos die verhaal van God se liefde vir Kain. Al dink ons nie so baie van Kain nie, en is hy sekerlik min se held, het God tog ‘n baie sagte plekkie in sy hart vir hierdie kind van Hom.

 

Genesis 4 vertel ‘n tragiese familieverhaal. Dit begin op ‘n positiewe noot. Eva was swanger en het die lewe geskenk aan ‘n seun. Groot was haar vreugde! Haar vreugde-uitroep met sy geboorte is dan ook ‘n belydenis. Sy bely dat sy met die hulp van die Here ‘n kind in die lewe gebring het. Later het sy weer ‘n kind gekry, ‘n broer vir Kain.

 

Nou is dit so dat ons dikwels ‘n totaal negatiewe beeld van Kain het. Tog word hy nie so geteken nie. Inteendeel word Abel, van wie ons ‘n positiewe beeld het, eintlik negatief geteken. Die naam Abel beteken “nietigheid”. Kain, so word hier vertel, was ‘n godsdienstige man. Hy bring ‘n offer. Sy jonger broer volg hom hierin na: “Abel het dit ook gedoen” (Gen 4:4). Kain neem die leiding en sy boetie volg in sy spoor. Kan ons dan nie tot ‘n mate begryp hoekom Kain ongelukkig was toe sy offer afgewys was en dié van sy boetie wel aangeneem was?

 

Die verhaal sê nie vir ons waarom die een offer aangeneem en die ander afgewys nie. Dis nie ter sake nie. Wat ter sake is, is hoe daarop gereageer word. Kain was bitter ongelukkig. Hy was kwaad en bedruk. Woede en depressie is oeroue menslike reaksie op die nie-realisering van jou goed bedoelde optrede. Veral as jaloesie ook ‘n rol speel, kom woede en bedruktheid gevaarlik na vore.

 

Die Here het Kain egter nie afgeskryf nie. Die feit dat sy offer nie aangeneem is nie, beteken nie dat die Here hom verwerp het nie. Die Here kom en praat met hom soos ‘n pa met sy seun. Die Here wil weet waarom hy so kwaad is. Kain word nie aangespreek omdat hy so kwaad was nie. God vra waarom hy kwaad is en wys hom daarop dat as hy goed doen, daar rede vir vreugde sal wees. Die Here vra hom mooi om nie toe te laat dat die sonde oor hom heers nie. Moenie dat die sonde ‘n houvas op jou kry nie. Moenie kwaad bly en ‘n wrok koester nie. Aanvaar wat gebeur het en rig jou daarop om in die toekoms goed te doen. Die feit dat die Here met hom praat, wys mos daarop dat die Here hom nie verwerp het nie.

 

Wat doen Kain dan? Hy antwoord die Here nie. Dis tipies van ‘n depressiewe mens wat nie sake wil uitpraat nie. In die verhaal word die indruk geskep dat hy God ignoreer. So asof hy daarmee te kenne wil gee: as U dan nie my offer wil aanvaar nie, dan het ek niks meer vir U te sê nie. So tipies soos ‘n stout kind. Hy luister nie na die Here nie en slaan die raad van die Vader met die sagte hart in die wind. Hy is egter mans genoeg om met sy broer te praat, met hom veld toe te stap, met hom te baklei en hom dood te slaan. God het hom gewaarsku om sy woede en jaloesie onder beheer te kry. Hy doen dit nie. Dit ruk handuit en lei tot moord. Die onskuldige sterf. Abel, wat eintlik niks met die nie-aanneming van die offer te doen gehad het nie, word die voorwerp van sy broer se onhanteerbare woede.

 

Nog skryf die Here Kain nie af nie! Hy praat weer met hom en gee hom die geleentheid tot skuld erkenning. Kain mis die geleentheid deur ‘n leuen te vertel. Die Here sê vir Kain dat Hy weet wat gebeur het. Hy sê dit op so ‘n wyse dat Kain nog ‘n kans het om te sê wat hy gedoen het. Hoe groot is die liefde van die Here nie. Die Vader met die sagte hart dwing nie die seun om sy skuld te erken nie. Hy spreek nie net ‘n oordeel uit nie. Hy gee aan Kain die geleentheid om die saak uit te praat.

 

Dit gebeur nie en dan kondig die Here die straf aan. Ook hierin betoon die Here genade en kom sy liefde na vore. Kain het moord gepleeg en verdien daarom die doodstraf. Wat behels die straf wat die Here aankondig? Kain word verban en van sy beroep en huidige lewenspatroon ontneem. Hy sal ‘n doellose swerwer word, met ander woorde, sy lewe sal weinig betekenis hê. Die straf klink erg, maar bly relatief lig. Hy het immers die doodstraf verdien. Hierin kom die sagte hart van die Here baie sterk na vore. Hy het ‘n sagte plekkie vir Kain.

 

Selfs dan kom Kain nie met ‘n skulderkenning na vore nie, maar word ‘n patetiese klaer. Hy sê die straf is te swaar! Hy kla dat die straf sy hele lewe raak. Sy verhouding met sy werk word geraak omdat hy nie langer ‘n saaiboer sal kan wees nie. Sy verhouding met God kom in gedrang want hy sal nie meer by die tempel die Here kan aanbid nie. Sy verhouding met ander kom in gedrang want ander sal hom verag en hom wil doodmaak. Sy lewe sal nie meer sin hê nie, want hy sal die heel tyd net moet vlug en doelloos swerf. Dis geen lewe nie, kla hy. Nie ‘n enkele oomblik dank hy die Here dat sy lewe gespaar is nie. Hy kom ook nog steeds nie by die punt van skulderkenning en berou nie. Hy pleit nie om genade ten spyte van sy sonde nie.

 

Dan vind ons die groot verassing in hierdie verhaal. Die Here sê dat Kain se dood sewevoudig gewreek sal word en Hy gee ‘n teken aan Kain. Nou was dit in daardie tyd so dat as iemand vermoor is, sy moordenaar om die lewe gebring moes word. As die vermoorde egter ‘n stamleier was, moes die moordenaar en nog twee ander uit sy familie of stam om die lewe gebring word. Die stamleier se dood is dus drievoudig gewreek. Dit is gedoen om die balans tussen die stamme te handhaaf en juis omdat die stamleier dan eintlik die waarde van drie gewone mense gehad het. As die Here sê dat Kain se dood sewevoudig gestraf sal word, dan sê Hy daarmee dat Kain baie meer werd is as ‘n stamleier. Ja, ten spyte van wat hy gedoen het, is hy nog baie meer as ‘n stamleier in die oë van die Here. As sy dood sewevoudig gewreek sal word, dan beteken dit dat hy niks anders as die seun van God is nie. Sewe is immers die getal van God in die Bybel; die volkome of volmaakte getal. Kain is ‘n seun van God! Kain, die depressiewe, jaloerse, woedende man; die leuenaar, geweldenaar en moordenaar; die man wat nie sy skuld bely en om vergiffenis smeek nie. Ja, hy is ‘n seun van God. Vir hom het die Here ‘n baie sagte plekkie in sy hart! Om dit te bevestig, gee die Here aan hom ‘n teken. Met die teken sal hy uitgeken word as ‘n kind van God wat deur God beskerm word en wat nie doodgemaak mag word nie. Hoe groot is die liefde van die Here nie! Die Here is die Vader met die sagte hart.

 

Nog is dit nie die einde van God se liefde nie. Kain, die moordenaar wat vervloek is om doelloos te swerf, word die bouer van ‘n stad. Hy, wat bang was dat almal hom sal haat en wil doodmaak, trou en word die voorvader van baie. Hy word die voorvader van alle kultuurgemeenskappe: die veeboere; die musici en die ambagsmanne.

 

In die gedeelte word Kaïn aan die leser voorgehou as ‘n tipiese mens:

Kaïn is die man wat die woorde van die Here ignoreer;

Kaïn is die liefdelose mens wat sy woede op ander (onskuldiges) uithaal;

Kaïn is die man wat homself verontskuldig – deur leuens en teenvrae;

Kaïn is die selfbejammerende,

maar juis ook as die mens vir wie God baie lief was.

 

Ons oordeel so maklik. Ons oordeel Kain so maklik en dink ons is darem baie bly dat ons nie soos hy is nie. Maar tree ons nie baie keer net soos hy op nie. Miskien het ons nog nie iemand dood geslaan nie. Maar hoe baie keer het ons nie met ons woorde of gedagtes mense se lewens vernietig nie? Hoe baie keer is ons nie kwaad en depressief nie? Hoe dikwels ontduik ons die vrae van die Here en ignoreer ons Hom? Hoe dikwels wil ons nie ons skuld erken en om vergiffenis vra nie? Hoe baie keer kla ons nie oor ons lot en straf nie?

 

Die Here is die Vader met die sagte hart. Hy skryf ons nie sommer af nie. Hy loop ‘n baie lang pad met ons. Selfs in sy straf is Hy besonder genadig. Hy het ons lief.

 

Genesis 4 is ook ‘n verhaal oor verwerping, die impak van die gevoel van verwerping en die verwerking van verwerping.

 

Daar verskillende vorme van verwerping. Mens kan deur mense verwerp word. Daar is huweliksmaats wat mekaar verwerp; ouers wat hulle kinders verwerp; kinders wat hulle ouers verwerp; vriende wat mekaar verwerp. Mense ervaar verwerping by die werk, in die gemeenskap en selfs die kerk. Daar is ook die diepste gevoel van verwerping: die gevoel dat God jou verwerp.

 

Ons moet nie ligtelik oor verwerping praat nie. Dit mag dalk vir ons lyk of iemand sommer net dink dat hy verwerp word en dit afmaak as nonsens of sommer net ‘n persepsie wat nie met die werklikheid klop nie. Dit, terwyl die persoon dit werklik as verwerping ervaar. En verwerping kan baie negatiewe gevolge hê. Dit kan lei tot opstand en aggressiewe dade; selfs tot aanranding en moord. Dit kan lei tot diep skuldgevoelens. Dit takel mense se selfbeeld af en lei tot ‘n gevoel van minderwaardigheid, selfbejammering en bitterheid. Dit kan lei tot depressie en selfs selfdood.

 

In Genesis 4 lees ons dat die gevoel van en belewenis van verwerping baie sterk by Kain na vore gekom het. Kain was ‘n godsdienstige man. Hy aanbid die Here en bring ‘n offer aan die Here. Dit het hy in opregtheid gedoen. Maar dan word sy offer nie aanvaar nie. Waarom weet ons nie. Wat ons wel weet, is hoe hy op die verwerping gereageer het. Kain was jaloers op sy jonger boetie wie se offer aanvaar is. Hy voel minderwaardig. Hy word baie kwaad. Hy word depressief. Hy raak aggressief. Hy slaan sy broer dood. Sy gevoel van verwerping dryf hom tot moord. Kain kon verwerping glad nie hanteer nie.

 

Ons lees hier nie net van Kain se totale onvermoë om die gevoel van verwerping te hanteer nie, maar ook van die Here se bemoeienis met Kain en die pad wat die Here met hom in sy verwerking van verwerping wou loop. Die Here praat met Kain nog voor hy heeltemal beheer oor homself verloor het. Kain luister nie. Na die moord konfronteer die Here hom. Dan is hy ontwykend. Hy lieg. Hy erken nie sy skuld nie. Nadat die Here die straf aangekondig het, verval Kain in selfbejammering en kla hy dat sy straf te swaar is. Telkens wou die Here in liefde met hom besig wees en hom lei op die pad van verwerking van verwerping en herstel van verhoudings en selfbeeld. Die Here het die pad enduit met hom geloop totdat hy sodanig aanvaar is en selfwaarde gevind het dat hy ‘n stad kon bou en sy kleinkinders kultuurstigters geword het.

 

Soos met alle verhale, identifiseer die leser hom ook met een of meer van die karakters in die verhaal en so word dit ons verhaal.

 

Leave a Reply

Your email address will not be published.

*