• 076-246-2572
  • info@familycorner.co.za

As pa dronk is …

 

Genesis 9:20-29:

Saamgestel deur : Prof Francois Swanepoel: Epos: swanema@telkomsa.net

 

Noag was ‘n baie besondere man. Op ‘n tydstip het die Here baie mooi gekyk na wat alles op aarde aangaan. Toe het Hy gesê dat daar net een regverdige man op aarde was. Die ander was almal korrup. Vol bose planne. Sommer net sleg. Maar Noag het uitgestaan bo almal. Boonop was Noag ‘n gehoorsame man wat mooi geluister het na wat die Here gesê het en wat die opdragte van die Here noukeurig uitgevoer het. Al spot almal met hom en word hy deur die gemeenskap uitgestoot, bly hy getrou en gehoorsaam. Hy en sy gesin is dan die enigstes wat gered word toe die groot vloed losgebars het.

 

Helaas eindig Noag se verhaal op ‘n heel ander noot. Na die vloed begin Noag weer om sy boerdery van die grond af te kry. Hy plant ook ‘n wingerd en maak wyn. Selfs die vrome Noag het voete van klei gehad. Die enigste regverdige van voor die vloed lê nou papdronk en poedelnakend in sy tent. Deur sy dronkenskap is hy gestroop van baie meer as sy klere; hy is gestroop van sy waardigheid. Hy het sy naam krater gemaak. Die hoë agting vir hom het ‘n knou gekry. Hy is nie meer die wonderlike en onkreukbare nie. Net maar ‘n nietige en sondige mens.

 

Hierdie tekening van Noag staan in skerp kontras met die tekening van die held in die Babiloniese vloedverhaal. Volgens daardie verhaal, wat baie parallelle met die Bybelse verhaal vertoon, was Utnapishtim die enigste vroom en regverdige man. Hy kry ook ‘n opdrag om ‘n ark te bou, wat hy doen. Die afmetings van die ark is presies dieselfde as die van Noag s’n. Hy laat ook dieselfde aantal van al die diere in die ark ingaan. As die water opdroog en hy uitgaan, bring hy ook ‘n offer – nes Noag. Die verskil is egter dat die Babiloniese gode wispelturig was en die mensdom uitgedelg het omdat hulle te veel aangeteel het en te veel lawaai gemaak het. Die wispelturige gode was tydens die vloed naderhand so uitgehonger, omdat niemand vir hulle offers gebring het nie, dat hulle byna van honger omgekom het. Hulle het toe soos vlieë op die offer toegesak. As Utnapishtim hulle lewens red deur die offer te bring, word hy beloon met die ewige lewe en so word hy ‘n goddelike wese.

 

Die Bybelse verhaal eindig heel anders. Nie met die vergoddeliking van Noag nie, maar met die aanduiding dat hy ‘n nietige en swakke mens is wat sondig. Die vroom en regverdige drink hom dronk. Stroop hom van alle waardigheid. Tree sommer dwars op. Miskien moet ons daarop let dat Noag hier in die sentrum staan en nie sy seuns nie. Hier word van die seuns net gesê dat die jongste sy pa kaal in die tent sien lê het. Dat hy dit aan sy broers vertel het. En dat die oudste twee broers ‘n kledingstuk gevat het, agteruit geloop het en hulle pa toegegooi het sonder om hom kaal te sien lê. Miskien moet ons nie te veel hierin lees nie. Hoe kon Gam tog geweet het dat sy pa kaal lê toe hy in die tent ingegaan het? Was dit nie maar per ongeluk dat hy hom gesien het nie? Gam kon dit maar net aan sy broers vertel het om hulle te waarsku. Dalk was hy baie skaam en verleë hieroor. Dis nie noodwendig dat hy spottend of neerhalend van sy pa gepraat het of nie respek betoon het nie. Ons lees niks hiervan in die teks nie. Trouens van die seuns se optrede het ons net kort saaklike mededelings.

 

Die fokus val hier op Noag. Hy plant ‘n wingerd. Hy maak wyn. Hy drink hom dronk. Hy lê poedelnakend sy roes en afslaap in die tent. As hy wakker word, vind hy uit wat aangegaan het. Nou weet ons mos dat as iemand na so ‘n drinkery wakker word, hy nie baie lekker voel nie. Hy moes ‘n kopseer en “hangover” gehad het. Sy kop wou moontlik nog bars en al die geluide was te veel. Hy sou mos nie nou al tot rasionele optrede in staat gewees het nie.

 

Dis dan dat hy nie net ‘n vloek oor sy jongste seun uitspreek nie, maar sommer ook ‘n seën oor die ander twee. Mens kan nie help om te glimlag as jy dit lees nie. As Noag hier opstaan, dink hy sy einde het aangebreek. Hy voel hy gaan dood. Dit was mos destyds die gebruik dat ‘n sterwende pa ‘n seën uitspreek oor sy kinders. So het Jakob pas voor sy dood sy seuns geseën. En Isak. As Noag hier die vloek en seën uitspreek, is dit so al asof hy sy laaste woorde uiter.

 

Noag vervloek Gam. Hy sal die slaaf van sy broers wees. As jongste seun was Gam die laagste op die rangorde in daardie tyd. Die jongste was destyds nie die witbroodjie nie, maar so amper ‘n laspos: die minste van die seuns. Hy word nou een trappie afgeskaal. Tot die posisie van ‘n slaaf, nog onbelangriker as selfs die jongste seun. Opvallend is dat die seën van die ander twee nie baie konkreet is nie en eintlik maar baie algemeen en vaal is. So asof Noag toe nie in staat was om nog baie helder te dink nie. Die vloek van Gam het vir die eerste lesers ‘n verklaring gegee van die posisie van die Kanaäniete. Hulle was die slawe van Sem en Jafet se nagelag. Eers van die Semiete en later van die Egiptenare. Die Kanaäniete is mos al van die tyd van Dawid onderwerp en sedert daardie tyd het hulle nie groot hoogtes bereik of tye van glorie geken nie. Hier word ‘n verklaring daarvoor gegee. ‘n Gebrek aan respek kon die oorsaak van die lae sosiale status en rangorde in die politieke arena gewees het. Dit kon ook meer waarskynlik net toegeskryf word aan die irrasionele optrede van iemand wat uit sy dronkenskap wakker geword het.

 

As pa dronk is, kan mens enigiets verwag. Dit kom nogal hier sterk na vore. Pa se dronkenskap kan nogal verreikende gevolge hê. Natuurlik geld dit nie net vir pa nie, maar ook vir die mense rondom hom. Die gevolge van dronkenskap kan verreikend wees. Vir die persoon wat dronk is of was en ook vir ander mense. Selfs vroom en regverdige mense het voete van klei het. Niemand is sondeloos nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published.

*