• 076-246-2572
  • info@familycorner.co.za

Met arrogansie word gespot

 

Genesis 11:1-9:

Saamgestel deur : Prof Francois Swanepoel: Epos: swanema@telkomsa.net

Ons is soms geneig om die Bybelverhale te lees asof al die verhale op dieselfde vlak lê; asof al die verhale in strak vorm vir ons ‘n stukkie geskiedenis vertel. Dan mis ons partykeer ‘n besondere aspek van die verhaal en soms ook die kernpunt van die verhaal. As ons die sarkasme in die verhaal van die val van die toring van Babel mis lees, dan mis ons eintlik die hele punt en boodskap van hierdie pragtige verhaal.

 

Die verhaal van die val van die toring van Babel is een van die bekendste verhale in die Bybel. Dis ‘n aangrypende verhaal. Mens kan nie help om ook te glimlag as jy hierdie verhaal lees nie. Hoe arrogant en onnosel kan die mens tog nie wees nie!

 

Die verhaal vertel van ‘n tyd toe daar skynbaar volkome eenheid in die mensdom was. Al die mense het dieselfde taal gepraat. Almal het na een plek toe gegaan en daar gaan woon. Dit klink so idillies. As ons tog maar in ‘n wêreld gewoon het waar daar soveel eenheid was! Ons ken net ‘n mensdom wat verdeeld is. Mense baklei en maak oorlog. Hoe wonderlik sou dit nie wees as al die mense dieselfde taal praat en in vrede saam kon woon nie. Hoe belowend begin die verhaal nie.

 

Lees ons verder, dan word dit duidelik dat die skrywer hier besig is om te spot. Die mense besluit om stene te bak en vir hulle ‘n toring te bou wat tot aan die hemel sal raak. Dit doen hulle om hulle te beskerm. Hoe ironies is dit nie. Daar was mos niemand buite die stad teen wie hulle hulle moes beskerm nie. Bowendien was hulle almal een en was hulle baie sterk. Hoor net hoe word met hulle gespot: hulle moet al hulle energie spandeer om hulle teen niks te beskerm!

 

Die spot gaan aan. Ons lees dat hulle klei vat en dit brand. In daardie tyd het die mense met klip gebou. Dink maar aan die tempel en die paleise. Dit was net as hulle sommer so ‘n tydelike plekkie wou oprig, dat hulle dit met modderstene gedoen het. Modderstene vir plakkershutte is goed en wel. Maar om ‘n hemelhoë toring daarmee te bou, is verregaande!

 

Die spot word nog skerper as ons daaraan dink dat hierdie toring verwys na die toring wat bokant die stadspoort op die stadsmuur gebou is. Dit was die belangrikste punt in die verdediging van die stad. Die stadspoort was die kwesbaarste punt. As daar ‘n goeie toring bo die poort was, kon hulle die vyand weghou van die poort. Hulle sou dan in uiterste gevalle van die klippe waarmee die toring gebou is, op die aanvallende soldate gegoooi het en so die soldate om die lewe gebring het of ten minste die deure in die stadspoort “verseël” het sodat niemand in die stad kon ingaan nie. Om dan nog modderstene te gebruik om ‘n toring te bou wat die belangrikste punt in die verdediging van die stad moes wees, is lagwekkend. Mens kan nie anders as om te lag oor die onnoselheid van hierdie mense nie!

 

Die sarkastiese spot met hierdie mense se onnoselheid en arrogansie, kom nog mooier na vore in die beskrywing van wat die Here doen. Hy kom af van die hemel om te kom kyk wat die mense besig is om aan te vang. Die toring moet tot aan die hemel strek, maar is so klein dat die Here nie mooi kan sien wat aangaan nie. Hy kan nie net neerbuig en dit raaksien nie. Hy moet van die hemel afkom aarde toe om te kom kyk wat die mens doen. Die klein mensies met hulle moddertorinkie. En dat hulle nou dink dat hulle daarop kan vertrou!

 

Die sarkasme kom nog sterker na vore as die Here sê: “Hulle het net begin om iets te doen. Hierna sal niks wat hulle beplan, vir hulle onmoontlik wees nie”. Dis mos nie woorde wat letterlik bedoel word nie. Dit drup van sarkasme. Die Here is besig om te spot met die grootheidswaan van die mense.

 

Dan kom die groot verassing. Die Here beplan nie om die planne van die mense met geweld om ver te werp nie. Hy doen dit so maklik. Hy verwar die mense se taal. Hulle begin praat, maar verstaan mekaar nie. Al hulle planne stort in duie. Hulle raak verstrooid oor die hele aarde. Die eens magtige stad val. Die hemelhoë toring kom nie klaar nie. Die ideale van een wêreldmag verkrummel. Die mens se plasing van sy vertroue op sy politieke en militêre mag en sy tegnologie, kom tot ‘n vernederende val. Hoe tragies. Die groot drome kom tot niks. Want die mens het sy vertroue op sy vernuf en kennis en prestasies geplaas en nie op die Here nie.

 

Die Here het lekker gelag.

 

Die verhaal word nog mooier as ons dit lees teen die agtergrond waarteen dit geskryf is. Die verhaal is baie lank van een geslag na die ander oorvertel. In die vorm wat ons dit vandag het, kom dit uit die tyd na die Babiloniese ballingskap. Kom ons plaas dit in perspektief. Die Babiloniese ryk het vir meer as ‘n halfeeu die toneel van die ou nabye Ooste oorheers. Hulle was die dominerende mag wat die magtige Assiriese ryk verslaan en daarna talle van die kleiner ryke omver gewerp en die inwoners in ballingskap weggevoer het. Die Babilonies ryk was op mag gegrond. Een volk na die ander is oorwin. Die inwoners is weggevoer. Met geweld is die ryk aanmekaar gehou. Op hulle militêre mag is hulle ryk gebou. Hulle het staat gemaak op hulle eie insig. Hulle was so arrogant. Maar toe kom daar verdeeldheid en tweespalt. Die een groep na die ander kom in opstand. Die ryk verbrokkel. Toe val dit voor die Perse. Die eens magtige Babel kom tot ‘n vernederende val. Van die eens magtige ryk het niks oorgebly nie. Selfs van hulle eens sierlike hoofstad het net ‘n ruinehoop oorgebly. As die gelowige Jode nou hierdie verhaal oorvertel, is daar niks meer oor van die volk wat hulle so wreed onderdruk het nie. Grootheidswaan lei tot ‘n vernederende ondergang.

 

Die Here lag vir die grootheidswaan van die arrogante vermeteles.

 

Hoe aktueel was hierdie boodskap deur die eeue nie. Hoe baie ryke het nie al ineengestort nie. Die magtige Griekse en Romeinse ryke het mos net soos die Babilonies ryk verkrummel en in duie gestort. So het talle ander ryke, instellings en individue ook al tot ‘n vernederende einde gekom.

 

Hierdie verhaal bevat ‘n ernstige waarskuwing. Moenie staatmaak op jou eie insig en vermoë nie. Die Here lag baie lekker vir die grootheidswaan van mense.

 

Miskien kan ons uit hierdie gedeelte in die Bybel ook leer dat ons as Christene ook maar kan lag vir die grootheidswaan van mense.

 

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published.

*