• 076-246-2572
  • info@familycorner.co.za

Liegstories oor jou vrou

 

Genesis 12:10-20, 20:1-18, 26:1-16:

Saamgestel deur : Prof Francois Swanepoel: Epos: swanema@telkomsa.net

 

Lees ‘n mens hierdie verhale, kan jy nie anders as om ten minste ietwat geskok te wees oor die optrede van die vader van die gelowiges nie. Hoe kan so ‘n geloofsheld tog so laag en gemeen optree? Kan ‘n man dan so selfsugtig en dom onnosel wees? Maar voor ons te gou en maklik oordeel moet ons miskien die verhale goed lees en kyk of ons nie maar net soos Abraham optree nie. En dit geld nie net vir mans nie. Kom liegstories ter wille van selfbehoud en eie voordeel nie vandag nog daagliks voor nie?

 

Dit wil voorkom asof dit nogal ‘n ernstige probleem was of iets wat dikwels voorgekom het, want ons vind nie minder as drie soortgelyke verhale in Genesis nie.

 

Ons lees dat daar hongersnood in die land was en dat Abraham toe besluit het dat die enigste moontlikheid om te oorleef, was om na Egipte te gaan. Maar voor hulle die land ingaan, praat hy met Sara. Hy het vooraf ‘n plan beraam. Die plan deel hy nou met sy vrou. Die plan behels dat hulle sal sê dat Sara, sy vrou, sy suster is. Hoor net hoe mooi voer hy die saak aan. Hy sê: Jy is ‘n mooi vrou. Dit is inderdaad ‘n goeie kompliment en mens kan verwag dat sy gelukkig sou voel as haar man so iets moois van haar sê. Wat hierop volg, trek eintlik ‘n streep deur die kompliment. Die mooi woordjies word gevolg deur ‘n skokkende versoek of liewers, opdrag en ‘n nog skokkender motivering. As dit die manier is waarop mans hulle vrouens komplimenteer, is dit geen wonder dat vrouens nie glo wat hulle mans sê nie. ‘n Kompliment met ‘n lelike angel. Nee, dit hoort nie so nie.

 

Abraham sê dan dat die Egiptenare hom sal doodmaak en haar sal laat leef. Omdat sy so mooi is, is sy lewe in gevaar. Dis eintlik haar skuld dat sy lewe in gevaar is. Nou wat soek hy dan daar as sy lewe in gevaar is? Kon hy nie ‘n ander plan maak nie? Op grond van hierdie argumentasie sê hy: sê tog dat jy my suster is. Wat ‘n verskriklike ding om te doen. Om van jou vrou te verwag om saam met jou te lieg en om van haar te verwag om julle huweliksband te ontken.

 

Wat nog skokkender is, is Abraham se motivering: dat dit met my goed kan gaan en my lewe deur jou toedoen gespaar kan word. Hy lieg oor sy vrou en verwag dat sy moet saamlieg sodat dit met hom goed kan gaan. Haar gevoelens word nie in ag geneem nie. Wat sy sou kon deurmaak en alles waaraan sy blootgestel sou kon word, is nie ter sake nie. Al wat tel is dat dit met hom goed kan gaan. Kan ‘n man so ongevoelig selfsugtig en selfgesentreerd wees? En dit ‘n gelowige? Is die vrou dan niks anders as ‘n gebruiksvoorwerp en besitting nie? ‘n Wese sonder gevoel? Net daar ter wille van die man en sodat dit met hom goed kan gaan?

 

Het ons hier by Abraham te doen met vooraf beplanning of pro-aktiewe optrede? Was dit vrees wat hom daartoe gedryf het? Was die situasie werklik so haglik dat hy bereid was om so ‘n drastiese stap te neem om aan die lewe te bly?

 

Dit wil voorkom asof dinge verloop het soos Abraham voorsien en beplan het. Die Egiptenare sien die mooi vrou en doen navraag oor haar. Die farao trou met die “suster” van Abraham en hy ontvang baie geskenke: kleinvee, beeste, donkies, slawe en slavinne en kamele. Sy lewe word gespaar en dit gaan baie goed met hom, veral as mens in ag neem dat hulle vanweë hongersnood daar beland het. Miskien het hy homself op die skouer geklop vir sy insig en vooruit beplanning.

 

Maar wat van Sara? Hoe het sy alles ervaar? Hoe hanteer ‘n vrou dit as haar man haar sommer so prysgee en tot beskikking van ‘n ander stel. Wat moes sy nie alles deurmaak nie. Abraham se voorspoed was van korte duur. Die Here gryp in en plae tref die farao. Die farao is woedend. Wat het jy gedoen? Vat haar en maak dat jy wegkom, snou hy Abraham toe. Abraham en Sara word gedeporteer. Voorspoed gegrond op sonde het korte duur.

 

Mense leer maar swaar. Hoe waar is dit nie dat mense soms glad nie leer nie. Nie eers uit hulle eie foute nie. ‘n Klompie jare later doen hy weer presies dieselfde ding. Net in ‘n ander land. As dit ‘n tweede keer gebeur, is dit nog skokkender. Abraham gaan woon in Gerar en gee voor dat sy vrou Sara sy suster is. Dan verloop dinge amper soos in Egipte. Die verskil is net dat Abimeleg nie met Sara trou nie maar voor die huwelik die boodskap van die Here ontvang dat sy reeds getroud is. Die skokkende is hier die gesprek tussen Abimeleg en Abraham. Abimeleg is woedend en vra: Wat het jou besiel om so iets aan te vang? Abraham kom eers met ‘n flou verskoning waarin hy homself wil regverdig en sy liegstorie ‘n witleuentjie wil maak. Hy sê dat sy inderdaad sy suster is. Hulle het dieselfde pa maar verskillende ma’s. Dit mag waar wees, maar dis net ‘n halwe waarheid. Die feit dat sy sy vrou was, is gerieflikheidshalwe verswyg en dit maak die halwe waarheid ‘n volle leuen.

 

Die skokkendste is egter sy volgende woorde: Toe God my uit die vaderland laat wegtrek het, het ek vir haar gesê: Jy kan wys dat jy my liefhet deur op elke plek waar ons kom, van my te sê: Hy is my broer. Nog voor hulle wegtrek het hy al hierdie plannetjie beraam. Wat meer is, hy stel ‘n onmoontlike eis: Sara moet lieg om haar liefde vir hom te bewys! Sy moet haarself blootstel aan die attensie en selfs moontlike verhoudings en wat ook al om te bewys dat sy hom liefhet. Hoe kan ‘n man tog so ‘n eis stel. Dis ondenkbaar. Dis so selfsugtig. Dit klink na afpersing en emosionele misbruik. Abraham, hoe kon jy tog!

 

Die vader van die gelowiges stel hier nie vir ons ‘n wonderlike voorbeeld nie. Hierdie verhale wil inteendeel vir ons sê dat ons nie so moet optree nie. Vroue mag nie deur hulle mans gebruik en misbruik word nie. Uit die verhale moet ons leer dat sodanige optrede lei tot ellende, vernedering, pyn en straf.

 

Leave a Reply

Your email address will not be published.

*