• 076-246-2572
  • info@familycorner.co.za

Oor skoonma en skoondogters

Genesis 27:46-28:9

Skrywer: Prof Francois Swanepoel: epos: swanema@telkomsa.net. Stuur gerus aan hom epos met vrae of sommer net om te debateer.

Skoonma’s is gereeld in die moeilikheid. Daar word baie skoonma-grappies vertel. Nog meer stories oor hulle vertel. Skoonma’s word baie keer as hekse voorgehou. Iemand met wie niemand kan klaarkom nie. Iemand wat heeldag en aldag moeilikheid maak. Baie skoonseuns, en nog meer skoondogters, kan glad nie met hulle skoonma’s oor die weg kom nie. Die verhouding tussen skoonma’s en skoonkinders is seker van die verhoudings wat die meeste in die spervuur staan.

Rebekka word hier geteken as ‘n moeilike skoonma. Sy sê vir Jakob: “Ek is nou siek en sat vir hierdie Hetitiese vrouens van Esau” (Gen 27:46). Dis nogal baie kras woorde. Beslis nie die mooiste woorde wat ‘n skoonma oor haar skoondogters kan sê nie. Dit dui baie beslis nie op ‘n goeie verhouding tussen hulle nie. Al het sy dit net vir haar man gesê, moes sy tweemaal gedink het voor sy dit gesê het. Sulke opmerkings het nou eenmaal die geneigdheid om verder gehoor te word. Dit kan die verhouding tussen die skoonma en haar skoondogters heeltemal vernietig. Dit kan ook die verhouding tussen die ma en haar seun baie skade aandoen. Dit was ook hier die geval.

Ons hoor al te dikwels ook sulke woorde. Miskien nie heeltemal so kras nie. Maar hoe dikwels hoor ons nie van skoonma’s wat hulle skoondogter lelik kritiseer nie. Dieselfde geld natuurlik ook vir skoonpa’s en skoondogters. Om nie te praat van die negatiewe opmerkings wat skoonouers oor skoonseuns maak nie. Dit gebeur dan ook al te veel dat sulke opmerkings al verder uitkring. Dit word oorvertel en stertjies word aangelas. Uiteindelik hoor die skoondogter of skoonseun dit in ‘n baie erger vorm as wat dit aanvanklik gesê is. Boonop word die konteks waarin dit gesê is of die agtergrond waarteen dit gesê is, nie in ag geneem nie. Elke skoonouer behoort baie versigtig te wees oor wat oor die skoonkinders gesê word. Te veel huwelike ly onder onverantwoordelike en onvanpaste opmerkings wat soms in die hitte van die oomblik gesê word. Ons sal moet leer om ‘n wag voor ons mond te hou en baie versigtig te wees oor wat ons sê.

Rebekka was siek en sat vir haar skoondogters. Moontlik het sy dit na aanleiding van ‘n spesifieke gebeurtenis gesê. Dit word nie hier uitgespel nie. Dit word sommer ‘n algemene stelling. Luister mooi: sy is nie siek en sat vir hulle optrede of dade of gesindheid of wat ook al nie. Nie wat hulle doen nie, maar wie hulle is. Dit gaan dan in hierdie verskil en baklei nie om die saak nie, maar om die persoon. Dit behoort nooit te gebeur nie. Die saak waaroor verskil word, moet aangespreek word. Dit gaan nie om die persoon nie, maar die daad of woord.

Rebekka is so boos vir haar skoondogters dat sy sommer siek en sat is vir hulle. Haar afkeer raak hulle as persone en hulle totale menswees. Sy verwerp hulle geheel en al. Alles wat hulle doen of sê is dan verkeerd. Nie meer ‘n bepaalde ding of saak nie, maar die persoon in haar hele menswees. Dit dui op ‘n lang stryd. Wat hulle ook al gesê of gedoen het om die afkeur te ontlok, het uitgekring om die hele verhouding te omvat. Dis iets wat vandag nog baie gebeur. Iemand maak ‘n fout of tree sodanig op dat dit die ander irriteer. Dan kring dit uit en word die afkeur ‘n afkeur aan die persoon in geheel.

Rebekka is so siek en sat vir haar skoondogters dat sy sê: “As Jakob ook met Hetitiese meisies trou, met meisies soos hulle uit hierdie land, kan ek net sowel sterf”. As dit nie emosionele afpersing is nie! Mens moet baie versigtig wees om nie van emosionele afpersing gebruik te maak om jou sin te kry nie. Emosionele afpersing bring altyd groot skade vir almal mee. Dit sou ook hier die geval wees.

Waarom wou Rebekka nie gehad het Jakob moet met ‘n Hetitiese meisies trou nie? Dit het niks met rassisme te doen nie. Die verskille tussen die Israeliete en die Hetitiete was net soveel of minder as tussen verskillende westerse volke of verskillende oosterse volke. Daar was kulturele en veral godsdienstige verskille. In daardie tyd het heelwat huwelike tussen mense uit verskillende volke voorgekom. So weet ons van die huwelike van die seuns van Elimeleg en Naomi met Rut en Orpa. Daar was ook baie ander. Dit was eers in die tyd van Dawid dat wette ingestel is wat die huwelike tussen Israeliete en ander volke verbied is. Huwelike is gewoonlik gesluit na onderhandelinge tussen die ouers van die bruidegom en bruid. Ons lees niks van die huweliksluiting van Esau met die Hetitiese vroue nie. Daar is dus die moontlikheid dat dit die goedkeuring van Isak en Rebekka gedra het.

Hier is egter iets diepers aan die gang. Rebekka eis dat Jakob weggestuur moet word om met ‘n meisie uit Rebekka se familie te gaan trou. Twee dinge lê hier agter. Aan die een kant het Rebekka gehoor dat Esau wraak sweer en is sy bang dat hy na Isak se dood vir Jakob sal doodmaak. Dan is die wegstuur om ‘n vrou te gaan soek net ‘n rookskerm om haar witbroodjie te beskerm. Aan die ander kant kom die spanning tussen my familie en jou familie hier duidelik na vore. Nie net my seun en jou seun nie (al was hulle ‘n tweeling), maar my familie en jou familie. Jakob word weggestuur na Rebekka se broer om ‘n vrou te kry. Esau gaan na Isak se broer om daar nog ‘n vrou te kry. Die ma se familie is wonderlik, maar nie die pa se familie nie. Ons weet mos dit werk nooit uit nie. Dis darem tragies dat al leer ons hier van die negatiewe gevolge van sodanige optrede, dit vandag nog so baie uitslaan. My familie teenoor jou familie.

Die skoonma wil die skoondogter kies. Isak het toegelaat dat Rebekka hom emosioneel afpers en hy stuur Jakob om ‘n vrou te gaan soek in sy ma se familie en veral in haar broer se huis. Daardie huwelik het wel geslaag. Meer, dit was ‘n huwelik waarin liefde ‘n baie groot rol gespeel het. Rebekka het egter nooit hierdie skoondogter ontmoet nie.

In daardie tyd het ouers hulle kinders se huweliksmaats gekies of minstens ‘n baie groot rol daarin gespeel. Huweliksluitings waar dit nie die geval was nie, was uiters skraal. Dit moet ons verstaan teen die agtergrond van die feit dat seuns destyds op die ouderdom van 13-15 getrou het en dogters tussen die ouderdom van 12-14. Vandag het dinge heelwat verander. Nie net wat ouderdom aan betref nie, maar ook die rol van die voornemende bruidspaar en ouerpare.

Waarom kom skoonma’s nie met hulle skoondogters oor die weg nie? Party sê dis omdat die skoondogters die seuns van hulle ma’s af wegneem. Baie ma’s kan dit nie goed verwerk nie en dit lei tot ‘n negatiewe verhouding met die skoondogters. Dit kan nie ontken word dat die vrou die ma se plek inneem nie en dit hoort so. Nou moet die ma maar tweede viool speel in die seun se lewe. En as daar kinders kom, is sy maar derde op die prioriteitslys. Dit hoort ook so. Natuurlik is dit moeilik vir enige vrou om so afgeskuif te word in rangorde. Maar dit moet so wees en ma’s behoort geestelik en emosioneel volwasse genoeg te wees om dit kan hanteer.

Ander wys daarop dat skoonma’s hulle skoondogters nie aanvaar nie omdat hulle of te veel na hulleself aard of te veel van hulle verskil. Daar is mans wat vrouens kies wat baie dieselfde as hulle ma’s is. Dan is die duplikasie soms te na aan mekaar om goed te werk. Daar is ook mans wat vrouens kies wat radikaal van hulle ma’s verskil. Dis gewoonlik hier waar die skoonma-skoondogter probleem die sterkste na vore kom. Natuurlik geld dit ook vir skoonpa’s en skoonseuns.

Hierdie verhaal wys ons daarop dat ons nie soos Rebekka moet optree nie. Ons moet nie sommer sê dat ons siek en sat is vir die skoonkinders nie. Ons moet nie ons kinders voorsê wat huweliksmaats betref omdat daar spanning in ons huwelik is nie. Ons moet waak teen die my familie-jou familie stryd.

 

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published.

*