• 076-246-2572
  • info@familycorner.co.za

Lank gelede het dit vir my begin deurskemer dat elke mens uniek is en geen mens al die antwoorde het nie; trouens dat daar nie so iets soos ‘n absolute sekerheid is nie. Daar is vrae wat onbeantwoord sal bly of hoogstens tydelik-gedeeltelik beantwoord kan word. So met die jare, met al die dinge wat maar gebeur, klein en groot, traumatiese ervarings; mense wat jou pad kruis en jou lewe en denke beinvloed; vreugdevolle en pynlike seer momente; die sosiale, politieke en ekonomiese konteks laat alles sy merk op die mens. Dit alles, so lyk dit vir my, het ook ‘n impak op jou geloof; op jou belydenisse oor God; jou belewenis van God en godsdiens.

Wat vir my al meer onstellend geword het, is die kitsantwoorde met Bybeltekste en al wat mense aanbied terwyl hulleself nie eintlik begrip het vir die situasie nie. Soos Job se vriende. Net so ontstellend is die skeef aankyk van mense wat worstelend vrae vra soos: Waar is God? Ons leef tog lank nie meer op ‘n plat vierkantige aarde met die hemel bo en die hel onder nie. Hoe kan ons in die post modern wêreld nog oor God praat en bely soos in die pre-moderne wêreld?

So met die jare , het dit vir my duideliker geword dat ons nie met sulke dogmatiese sekerheid kan praat oor God, die lewe na die dood, die sin van die lewe, en baie meer nie. As ons besef dat die kosmos biljarde jare oud is, ons snags in die sterre inkyk in die geskiedenis van biljoene jare; dat ons die kleinste deel van die skepping nie ken nie; dat die verweefdheid van alles te ingewikkeld is om te beskryf, laar dit my sprakeloos. Dan weet ek, ek kan maar net in verwondering staan. In verwondering in en oor die skepping. En baie meer in verwondering oor die Skepper. En as die skepping voortgaan en dinamies aan die ontwikkel is, dan is die Here mos tereg die Lewende Lewe (soos die Hebreeuse woordstam aandui). God is die groot misterie oor wie ek alleen maar kan stamel.

Terselfdetyd besef ek net weer: God is betrokke by die lewe van mense. Gaan dit nie in die Bybel om ‘n lewende verhouding tussen die lewende Here en die lewende mense binne die konkrete lewenskonteks nie? Is dit nie iets wat in al die Bybelverhale na vore kom nie?

Dan is die Here terselfdetyd oneindig vêr weg en intiem naby en elke mens beleef iets daarvan op unieke wyse in die unieke konteks van die dag.

Dan lyk dit ook vir my of mens so ‘n onskeibare psigo-somatiese eenheids-en- sosiale wese is. My psigiese toestand het ‘n impak op my fisiese toestand, my gemoedstoestand en emosies op my geesteslewe en verhoudings en so aan. Wat ek dink en doen en sê het ‘n impak op myself en op almal rondom my (hetsy permanente of langdurige verhoudings, toevallige of kortstondige of beroepsverhouding). Soos klippies in ‘n waterstroom, rol ons teen mekaar en skuur ons mekaar.

Dan kan mens soms glimlag en soms huil oor die rolle-impak wat maak dat vrae nie gevra, emosies nie verwoord, twyfel nie uitgespreek mag word nie. En veral oor die gejaagdheid wat meebring dat tyd vir praat te min word; en tyd vir luister nog minder

Groete Francois

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published.

*